Platvorm, uitleg en ontwerp

Dit klink baie soos “Lights, camera and action!” en in sommige opsigte is dit ook wel dieselfde. Om ‘n fliek of reeks op die kassie te bring word baie voorbereiding vereis. Alles moet reg en in plek wees: beligting, klank, kostuums, stel, draaiboek, regisseur en akteurs om maar ‘n paar te noem.

Om ‘n webwerf gereed te maak vir die interweb is ook ‘n proses met baie voorbereiding en beplanning. Jy gaan die volgende nodig hê: ‘n host, boodskap of doelwit, teikenmark, inhoud ge-optimeer vir die web, platvorm, uitleg en ontwerp. Met laasgenoemde drie word bedoel die volgende:

  • platvorm – die programmering en logika wat die onderbou vorm van die webwerf. Dit wat maak dat dit maklik opdateer en integreer met ander stelsels. ‘n Voorbeeld is WordPress.
  • uitleg – hoe die verskeie elemente wat die bladsy uitmaak, gerangskik word. Byvoorbeeld, mense verwag dat die navigasie of bo of ‘n die linkerkolom sal wees.
  • ontwerp – die grafiese komponent van die webwerf wat die sentrale boodskap van die webwerf moet ondersteun deur middel van kleur, ritme, balans en ander Gestalt-beginsels.

Om sinvolle kritiek op ‘n webbladontwerp te ontvang kan nogal ‘n seldsame gebeurtenis wees. Die kliënt wil hê dit moet anders lyk omdat “iets nie reg lyk nie” of “die ontwerp moet meer pop”. Dit is inderdaad moeilik om as ontwerper en kundige op die gebied van gebruiksgewoontes ‘n doelmatige verandering aan ‘n uitleg te maak op grond van iemand anders se gevoelens.

Hoe ver het tegnologie nie egter ontwikkel om dit vandag makliker as ooit te maak vir enige iemand wat sy sê wil sê in die wye wêreld om juis dit te doen nie!