Om te droom, of nie te droom nie

Van kindsbeen af leef mens in ‘n droomwêreld. Jy leef jou in hoe jou karretjie om ‘n draai swaai dat die stof so staan en met al die klankeffekte wat daarmee gepaard gaan. Hoe jy jou verbeel dat as jy vinnig genoeg om die huis hardloop, jy sal kan opstyg en die wolke raak.

Soos die jare vorder, word die een stadium van mens se lewe vir die volgende verruil. Saam met hierdie verwisseling is daar merkwaardige ervarings wat jou jou lewe lank bybly en jou persepsies vorm. So, byvoorbeeld, kan jy op skool droom om eendag universiteit toe te gaan, graad te vang, te trou, kinders te kry en dan oud te word saam met jou droomvrou. Wanneer jy egter moet begin kies in watter rigting jy gaan studeer, pak die onsekerheid jou. Wanneer jy uiteindelik ‘n oningeligde besluit maak en jou kursus nie sukselsvol kan voltooi nie, vertel jy jouself dat dit ook maar beter so is – dit was seker nie bedoel om te wees nie. Dan, wanneer jy uiteindelik ‘n vaste werk kry, verwag jy dat jou droomvrou enige oomblik gaan opdaag en elke dag gaan ophelder.

Punt is, drome word selde bewaarheid. Beteken dit dus ons moenie droom nie? Ons het altyd maklik gesê “Eendag as ek groot is…”, maar nou dat jy “groot” is? As jy al die jare gedink het 25 is ‘n goeie ouderdom om op te trou, maar 5 jaar daarna is jy steeds sonder die verlore ribbebeen?

Wanneer tegnologie jou stokperdjie is en jy graag ‘n nuwe rekenaar wil koop, dan besef jy “Wat help dit dat ek nou ‘n nuwe rekenaar bou teen hierdie prys terwyl, as ek 6 maande wag, spaar ek R2000”. En oor 6 maande is dit weer hierdie storie van voor af. Moet jy dan ophou droom en drool oor die nuutste en vinnigste?

Ek is seker elke mens se reis deur die lewe word vooraf gebaan. Net dit alleen behoort mens rustigheid te gee, want “ons weet dat vir hulle wat God liefhet, alles ten goede meewerk, vir hulle wat na sy voorneme geroep is.” volgens Rom. 8:28.