Winternag

Eugene Marais (1871 – 1936)

O koud is die windjie
en skraal.
En blink in die dof-lig
en kaal,
So wyd as die Heer se genade,
Lê die velde in sterlig en skade.
En hoog in die rande,
Versprei in die brande,
Is die grassaad aan roere
Soos winkende hande.

O treurig op wysie
op die ooswind se maat,
Soos die lied van ‘n meisie
in haar liefde verlaat.
In elk’ grashalm se vou
blink ‘n druppel van dou,
en vinnig verbleek dit
tot ryp in die kou!